Julle
moet in My bly, en Ek in julle. Joh 15 waar Jesus praat van die ware
wingerdstok. Is dit nie ongelooflik mooi woorde nie? Julle moet in
My bly, en Ek in julle. Wat beteken dit?
Joh 15 : 1 - 8 Ek is die
ware wingerdstok en my Vader is die boer. 2 Elke loot aan My wat nie
vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg,
sodat dit nog meer vrugte kan dra. 3 Julle is alreeds reg gesnoei
deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. 4 Julle moet in My bly en
Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die
wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.
5 Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom,
dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. 6 As iemand
nie in My bly nie, word hy weggegooi soos 'n loot en hy verdroog.
Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit
verbrand. 7 As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net
wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8 My Vader word juis
daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.
Eintlik so 'n pragtige, praktiese beeld wat Jesus
hier gebruik. God die Vader is die Boer. Hy het 'n wingerd wat vir
Hom baie kosbaar is. Jesus sê Hy is die Wingerdstok, en ek en jy is
die lote en ons behoort vrugte te dra. So enkele weke gelede het ons
gepraat van die twee mandjies vye. Mooi, goeie, lekker vye, en dan
'n mandjie met vrot vye. Jesus wil hê ons moet goeie vrugte dra.
Anders word die lote afgesny en verbrand. Dan is dit niks werd nie,
en hoort ons nie in die Boer - God die Vader - se wingerd nie. Maar
as ons vrugte dra, sê Jesus in hierdie gedeelte, bly ons in Hom en
Hy in ons. Maar hoe werk dit? Wat beteken dit? Voor ons hierna kyk,
kom ons praat net eers oor die Boer - God. Hierdie is Sy wingerd. Is
dit nie so dat die boer kan besluit wat in sy wingerd moet wees en
wat nie? Hoe lyk 'n mielieland wat heeltemal verdroog het? Dit lyk
sleg, jy kan niks daarmee doen nie, en daar kom 'n tyd dat jy niks
meer kan red nie. Maar, waar vrug is, is daar 'n oes. 'n Boom wat
vrug dra, bring iets voort, dit beteken vermenigvuldiging, en groei,
'n opbrengs, winste. Dit is wat God in Sy wingerd wil hê. En Hy kies,
Ek in julle, en julle in My. Om IN Jesus te wees en Hy in ons, is
sekerlik die grootste geskenk wat ek en jy kan hê. Ek wil niemand
anders in my hê as vir Jesus Christus nie. Wel, hoe dan?
1. Om net kennis van alles rondom Jesus, en sy werk
op aarde te hê, beteken nie dat Hy in my is en ek in Hom is nie.
Want kennis kan deur enigeen opgedoen word. Daar is mense van ander
gelowe wat waarskynlik báie, báie meer kennis het van die Bybel, en
teologie, wat nie vir Jesus in hulle het nie. En ons kan die Here
dank dat dit so is, anders sou ons maar swaar gekry het met hierdie
leegheid binne ons.
Jes 44 : 25 "Ek stel die toekoms voorspellers aan die kaak, Ek
maak die waarsêers belaglik, Ek weerlê die geleerde mense, Ek
ontmasker hulle kennis as dwaasheid".
Kennis van Jesus as sulks, sê nie so baie nie. Maar ja, ons moet
kennis hê. 'n Kind kan in Jesus wees, en Jesus in hom, sonder
kennis.
2. Die volgende ding wat dit nie is nie, is net
geloof. Om te glo dat God bestaan, en Jesus gedoen het wat Hy kom
doen het, maak nie dat ons in Hom is nie.
Jak 2 : 19 "Glo jy dat daar nèt een God is? Dit is reg. Die
duiwels glo dit ook, en hulle sidder van angs".
Om net hierdie feite te weet, en selfs te glo, maak nog nie
hierdie unieke verwantskap nie. Om in Jesus te bly, en Hy in my, vra
baie meer as kennis en geloof. Maar al twee daardie komponente moet
daar wees.
Julle moet in My bly en Ek in julle. Jy sien, die vrugte is die
bewys. 'n Appelboom dra nie pere nie. Jesus in my, bring Jesus-vrug
voort. Daarom sê Jesus, Ek is die wingerdstok, en julle die lote.
Nie andersom nie. Die wingerdstok is nie afhanklik van die loot nie.
Die loot is afhanklik van die wingerdstok. Die loot kan verdroog
sonder dat die wingerdstok verdroog, maar nie andersom nie. Ons is
van Jesus afhanklik, nie Hy van ons nie. Die Wingerdstok dra ook nie
die vrug nie, want dis nie Sy funksie nie. As Hy in my bly, nét dan
kan ek vrug dra, want die loot kry sy krag van die wingerdstok. Sien
jy die voorwaarde? En hoe dra ons vrug? Deur gesnoei te word, dan
dra die loot nog meer vrug.
Snoei is nie altyd lekker nie, en definitief is snoei
nie straf nie. Snoei beteken dat die boer al die dooie takkies
wegsny. Dis hoe die Here ons vorm, om skoon te kom, en optimaal te
groei. Al gesien hoe lyk 'n roosboom wat glad nie gesnoei word nie?
Sy takke groei in alle rigtings, die boom lyk siek en verwaarloos,
en sy rose lyk slegter as plastiek rose. Nee, snoei gee vorm, dit
stimuleer groei, en bring goeie vrugte voort. So wil 'n boer trots
wees op sy wingerd, en so wil die Here trots wees op Sy wingerd hier
op aarde.
Maar dis net moontlik as Hy in my bly, en ek in Hom.
Dit is my keuse - die Here dwing baie selde dit op ons af.
Hy in my en ek in Hom. Wat moet ons doen? Ons moet
bereid wees om gesnoei te word. Soms is dit nie sonder pyn nie. Maar
dis die voorwaarde! Vers 4 - "'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra
as hy nie aan die wingerdstok bly nie, en so julle ook nie as julle
nie in My bly nie." Openb 3 : 20 "Ek staan en klop …. " en so kom
alles na 'n punt toe, wat sê as daar nie 'n diepgewortelde
verhouding is nie, bly ons nie in Jesus en Hy in ons nie. Die loot
kan homself nie net soms aan die wingerdstok vasheg en dan weer
sonder die wingerdstok gaan nie. Die loot kan homself ook nie so nou
en dan aan iets anders gaan vasheg nie. Jy weet mos, soms so bietjie
gerieflikheidshalwe. Die loot kan homself ook nie losmaak van die
wingerstok en homself in die grond gaan inforseer nie. Hy sal
doodgaan, en dan staan daar in vers 6 - "Die mense maak sulke lote
bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand". Al gesien hoe
lekker brand droë lote in 'n vuur? Al gedink hoe moet dit in die hel
wees? Droë lote brand lekker.
Wat is lekkerder as 'n lewe waar Jesus in my is en ek
in Hom? Volmaakte harmonie. En as ons bietjie wegdwaal? En die
vrugte so bietjie afgaan? Dan snoei Jesus ons so bietjie, sodat ons
beter kan raak.
Dink jy dalk dat Jesus nie in jou wil wees nie? En
dat Hy jou dalk nie in Hom wil hê nie? Dalk is die Here met jou
besig met 'n snoeiproses. Dalk voel dinge nie so lekker in jou
verhouding met die Here nie. Dan sê Hy net, bly in My. Byt vas, Ek
is nog besig. Ek gee jou nog 'n kans. En as jy dit vandag hoor, weet
verseker, dat die loot nog nie afgesny is nie. Daar is nog 'n kans.
Gee oor, gee ALLES oor aan Jesus. Moenie die Wingerdstok probeer
systap na die Boer toe nie. Hy gaan dit in elk geval nie toelaat nie.
Hy werk deur die wingerdstok met jou en my as lote.
Joh 17 : 21 "Ek bid dat
hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U,
dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My
gestuur het".
Die Vader in Jesus, Jesus in die Vader, Ek in Jesus,
Hy in my. Pragtig nè. Julle moet in My bly, en Ek in julle.
|